Egypt

'n Suid-Afrikaanse maatskappy, Floppy Sprinkler van Nelspruit, het 'n groot slag geslaan met 'n kontrak by die grootste besproeiingsprojek ter wêreld wat tans in Egipte ontwikkel word. Die floppy-sprinkelaar is 'n eg Suid-Afrikaanse produk wat plaaslik ontwikkel is.

 

Volgens mnr. Christo Theron, tegniese direkteur van die Nelspruitse maatskappy, bestaan die Thoshka-besproeiingsprojek in Egipte uit 'n reusepompstasie en kanale wat sowat 5,5 miljard kubieke meter water vanaf die Nassermeer dieper die woestyn in sal lei om sowat 'n half miljoen hektaar in die Saharawoestyn vir landbouproduksie  oop te stel.

Die hoofkanaal van die projek strek weswaarts vanaf Toshkabaai van die Nassermeer oor 'n afstand van 310 km die Saharawoestyn in. Die bodem van die kanaal is 30 meter wyd en die bokant van die kanaal 58 meter. Dit is 10 meter diep.

Sowat 80 km vanaf die pompstasie verdeel die hoofkanaal in vier takkanale waarvan die vierde takkanaal met 'n lengte van 60 km die langste is. Dié deel word deur die Dief Allah-konsortium van maatskappye ontwikkel en dit is waar Floppy Sprinkler ook betrokke is.

Volgens mnr. Theron is die floppy-stelsel reeds op 250 ha geïnstalleer en reeds aan die gang. Dit vorm die grondslag vir verdere ontwikkeling by die Toshka-projek.